15 December 2008

Juffrou vertel kinders daar is geen Kersvader, word afgedank

'n Skooljuffrou het haar leerlinge wysgemaak dat daar geen kersvader is nie. 'n Kiloliter snot en trane later is die juffrou sommer afgedank. Al die ou tannies het gekla dat hulle kinders snot en trane by die huis aangekom het. Die ouers het nie moed opgegee totdat die wrede heksejuffrou afgedank is nie.

Santa Clause on the cross. Kruisvader?
Art Conrad herinner ons waaroor Kersfees nou eintlik gaan.

Bestaan kersvader wel?


Wel, daar is wel 'n geskiedkundige figuur, genaamd Sinterklaas, waarop kersvader gebasseer is. Is daar werklik 'n lustige ou man wat met sy slee in een dag rondom die wêreld vlieg en aan almal geskenke aflewer? Ek wil nou nie snaaks wees nie, maar ek het nog nooit rendiermis in my tuin opgemerk nie. Snaaks genoeg verdwyn die melk en koekies - en beslis die sopie of twee - wat ek uitsit telkemale.

As daar wel 'n kersvader is, blyk die kêrel die vermoëns van elektrone magtig te wees. Jy weet, Heisenberg se onsekerheidsbeginsel. Ek kan wel die effek van Kersvader se momentum waarneem (naamlik dat my melk, koekies en sopies - veral die sopies - voete kry), ek kan wel die posisie van Kersvader bepaal (naamlik die Noordpool, natuurlik), maar ek kan egter nie sy posisie en sy momentum op dieselfde tyd vaslê nie. Dalk moet ek hierdie kersfees 'n pil rohypnol in kersvader se sopie sit. Jammer, almal. Kersfees raak dalk afgestel, maar dis in die naam van wetenskap en vooruitgang.

Is dit tot jou kinders se voordeel om hulle leuens te vertel in die gees van kersfees?


Die kort antwoord is ja, sou ek reken. My ouers het my vertel van die tandemuis, die paashaas, kersvader en Liewe Jesus. Een keer toe ek 'n lekker voortand gewissel het en dit in my skoen gesit het, was ek effe angstig om hierdie tandemuis in aksie te sien. Toe sluip ek in my kamer in op 'n onbenullige tyd en vang toe my pa handeviervoet met sy vingers in my skoen. Ek vra hom toe wat gaan aan. Hy probeer my toe wysmaak dat hy die tandemuis voer. Natuurlik vra ek hom of ek die tandemuis kan sien, maar toevallig is die tandemuis bang vir kinders en kry dié toe skielik skrik op die lyf. Toevallig nadat hy sy tand gekry het. Toevallig nadat ek 'n kranige R1 munt in my skoen sien blink het. Nogals 'n windgat bureau de change, daardie tandemuis.

Daardie middag het soos 'n klassieke filmtoneel gelyk. Ek onthou nog hoe ek my hande aan my wange slaan en 'n haasbek angskreet uitlaat ("mathaverpoethting!"). Een angskreet vir die tandemuis, op 'n nabyskoot. Een angskreet vir die paashaas, op 'n mediumskoot. Een angskreet vir kersvader, op 'n langskoot. Een angskreet vir Liewe Jesus, op 'n lugskoot wat die kwartels wys soos hulle uit die bome uiteendrywe. Helaas, nie eers die Heiland het heelhuids hiervan afgekom nie. Dis nou wat jy kry van 'n haasbek.

Ek sou nou nie sê dat die arme juffrou afgedank moet word omdat sy haar bek verby gepraat het nie. Ek moet egter bieg: as my blootjie nie self kan uitpluis dat daar nie werklik 'n kersvader is nie, sal ek myself as ouer afdank.

11 December 2008

Jammer, geen wapenondersoek

Nou toe nou. Onlangs het die voormalige staatspresident F.W de Klerk asook biskop Desmont Tutu president Kgalema Motlanthe berispe om dalk 'n onafhanklike wapenondersoek in te stel. Al die skelette in daai kas wil tog net nie gaan lê nie. Die poppe dans behoorlik.

President Kgalema Motlanthe reken egter dat daar geen geldige rede is vir 'n onafhanklike wapenondersoek nie, want geen lid van die publiek kon nog vorendag kom met enige bewyse dat die wapentransaksies onreëlmatig was nie. Nogal steeks, die president. En dit nogals voor 'n kerkmens soos Desmond Tutu.

"There is already an investigation in some of these matters and we are confident that our law enforcement agencies are capable of handling any allegations pertaining to the arms deal."

[Thabo Masebe, woordvoerder van die president.]

Daar is iewers 'n slang in die gras. Ons regstoepassing val onder die polisiehoof. Die polisiehoof moes onlangs uittree omdat hy toe bietjie té goed bevriend was met Glen Agliotti, volgens oorlewering 'n witboordjiemisdadiger. Die Skerpioene het hulle werk te goed gedoen, en is toe sommer ontbind en ingeskakel by die polisie. Maar die polisiehoof is ook een van die ape wat die wat die Skerpioene nou uit die mou gelaat het.

Nou wil die president ons wysmaak dat hy volle vertroue het in ons regstoepassing, waarvan die hoof kokkedoor nou moes uittree omdat hy nie so goed gevaar het met ons vertroue in hom nie.

Ek dink ons moet begin kyk wanneer laas president Kgalema Motlanthe 'n nuwe C-klas Mercedes Benz aangeskaf het. Dalk oorvleuel sy winskopie met die aankoop van die weermag se nuwe stralers.

05 December 2008

Die Helde van die Jaar

Daar is deesdae nogals 'n aanval op akademiese vryheid in Suid Afrika. Soos gewoonlik, lê die probleem aan die politiese kant en nie aan die tegniese kant nie. Barney Pityana (Unisa se vise-kanselier), Dr Anton Turton (voormalige waternavorser van die WNNR) en Prof Nithaya Chetty (voormalige fisici van die Universiteit van KwaZulu-Natal) het almal al die kortste lootjie getrek.

Barney Pityana en die kommuniste


Barney Pityana het die fout gemaak om sy stem dik te maak oor die omstrede Jacob Zuma. Al wat Mr Pityana beweer het, is dat Zuma 'n morele maaifoedie is. Nou reken die ANCYL en die SAKP dat hy nie sulke ongegronde stellings mag maak nie. Ek meen dis nie asof Zuma al ooit skuldig bevind is nie. Zuma is wel al beskuldig en aangekla vir ondermeer verkragting, geldwassery en omkopery. Boonop sit sy voormalige finansiële raadgewer huidiglik in die tronk omdat hy namens Zuma omkoopgeld bewerkstellig het. Nogtans is daar nie grondige rede om te beweer dat Zuma 'n skurk is nie. Nee, glad nie.

Wel, Mnr Pityana, ek haal my hoed af vir jou. Jy's 'n ware heer.

Dr Anton Turton en die drol in die drinkwater


Ja, dis nie net 'n bar karavaanparkliedjie nie. Blykbaar is daar werklik drolle in ons drinkwater. Dr Turton het die fout gemaak om dit vir ons te vertel, want alles moet mos nou mooi vertoon in die Nuwe Suid Afrika. Die WNNR het toe sommer besluit om Dr Turton te skors.

Soos wat dit nou maar deesdae gaan, maak jy 'n fout as jy jou werk té noukeurig doen. Dr Turton is nou die slagoffer van sy eie kundigheid en sy eie vernuf. Dis mos nie deesdae meer iets om op jou CV te sit nie. Nee, jy moet eerder 'n kriminele rekord hê. Verkieslik ene wat daarvan getuig dat jy vrouens en kinders in die Wimpy probeer opblaas het met tuisgemaakte ploftoestelle. Maar heelaas, as jy nou wetenskaplike navorsing doen en die resultate lyk nie polities korrek nie, dan is jy sommer die drol in die drinkwater.

Dr Turton het geweier om sy navorsing of sy voorstelling daarvan te wysig en daarvoor is hy afgedank. Wel, Dr Turton, ek haal my hoed ook af vir jou. Jy's ook 'n ware heer en ons gaan dit nog erg berou dat ons nie na jou geluister het nie.

Prof Nithaya Chetty en die CV vervalsers


Prof Chetty het die fout gemaak om Malegapuru William Makgoba (sy vise-kanselier by die Universiteit van KwaZulu-Natal) in die pers aan te vat. Nou as ons nou swart op wit kyk daarna hoe sake staan, daan lyk dit nie asof die einstie vise-kanselier se kritek so onbenullig was nie.

Malegapuru is al weggejaag by die Universiteit van die Witwatersrand omdat hy sy CV vervals het. Hy is ook al aangekla van seksuele teistering. Nou hoe kan Prof Chetty dan so 'n rolmodel aanvat in die pers? Ek meen jy mag mos nie vir 'n plototter vertel dat hy 'n plototter is nie. Nee, dis nie polities korrek nie.

Prof Chetty verlaat tans die Universiteit van KwaZulu-Natal. Ek dink dis 'n wyse besluit want soort soek soort. Prof Chetty, ek haal my hoed af vir jou ook. Jy is ook 'n ware heer en ons akademiese instansies gaan dit nog berou dat hulle van manne van jou staal ontslae geraak het.

04 December 2008

Wanneer is dit haatspraak?

Die ANC se bejaarde jeugliga was onlangs in die sop oor die omstrede uitlatings van sy leier, Julius Malema.Julius reken dis maar reg as hy nou sy lewe wil neerlê vir Jacob Zuma. Verder reken hy dat dit dus reg is as hy ander mense se lewens ook wil opoffer vir sy saak. Grens dit nie dalk aan haatspraak nie?

Julius Malema. Ek dink hy moet eerder sy van verander na Mampara.


Daar is telkemale klagtes ingedien by die South African Human Rights Commission (SAHRC), maar daar het niks van gekom nie. Dalk is die SAHRC nie so onafhanklik soos wat ons dit sou wou gehad het nie. Malema is min of meer regstreeks verantwoordelik vir die groot skeur in die ANC, wat uiteindelik gelei het tot 'n nuwe politiese party. Tog hou hy voet by stuk dat hy nié haatspraak gebruik het nie. So wat is haatspraak nou eintlik?

Op professor Pierre de Vos se blog het ek hierdie definisie raakgeloop:

Article 10 of PEPUDA prohibits any person from publishing, propagating, advocating or communicating words based on one or more of the prohibited grounds such as race, sex, gender and sexual orientation, against any person, that could reasonably be construed to demonstrate a clear intention to be hurtful; be harmful or to incite harm; or promote or propagate hatred.

Malema mag dus dalk wegkom op die tegniese punt dat hy nie haat of geweld gestook het teen enige spesifieke ras, geslag, seksuele voorkeurgroep of enige spesifieke persoon nie. Hy stook net haat en geweld in die algemeen. So 'n haatslet! Dog het hy naderhand om verskoning gevra oor sy uitlatings. Ek dink nie hy moes nie, want sedert die ANC nou gekloof is in die middel is ek nogals dankbaar vir die vent.

01 December 2008

Suid Afrika steek uiteindelik sy kop by die donkereeue uit

Wragtig, een of ander wrintiewaar van Harvard het 'n studie gaan maak. Ja, dit is merkwaardig dat iemand by universiteit 'n studie maak. Soos my Pa nou eendag vir my gesê het: die universiteit is 'n fontein van wysheid waar studente net heen gaan om te drink.

Elkgeval, die Harvard man was nogals ontsteld oor Thabo Mbeki se benadering tot ons Vigs epidemie. Oom Thabo reken mos dis nie 'n virus wat Vigs veroorsaak nie, maar armoede en 'n gebrekkige dieet. Wragtig. Wou sê ek begin mos soos 'n weeskind voel as ek so paar ure lank nie geëet het nie. Ek twyfel darem of Freddy Mercury aan hongersnood omgekom het. Hy het definitief baie goed gevreet, maar hy't nie vir my so vars gelyk so na die einde toe nie. Volgens Oom Thabo was daai nie 'n virus wat vir Freddy aangetas het nie. Laat mens nogals kopkrap.

Oom Thabo reken mos 'n lekker beet gaan jou laat beter voel as jy 'n vigswesie is. Ek weet nou nie so lekker nie. Die dwelms wat die blêrrie rassistiese Westerlinge vir Die Volk wil voer blyk darem vigslyers te verhoed om 'n vigswesie agter te laat, want dit help mos om te keer dat jy vigs by jou moeder kry by geboorte.

Sy groot penarie is dat ARV dwelms jou lewer aantas. Dog doen hy boggerol oor Johnnie Walker. Ons voormalige minister van gesondheid het juis 'n leweroorplanting gehad. Sy leef nog. Gevolglik is dit mos beter as jy ARV dwelms neem en 'n leweroorplanting kry, as wanneer jy verhoed word om rassistiese Westerse medisyne te neem. Dan het jy minder vigs en meer van 'n kans on naweke te spandeer by die watergat saam met twee befaamde lede van ons kabinet, naamlik Johnnie Walker en Jack Daniels.

As hulle nou regtig jou immuniteit wil toets, moet hulle eerder vir almal koshuiskos voer in plaas van ARVs. As jou immuniteit eers koshuiskos gewoond is, is vigs sommer soetkoek.

30 November 2008

Hartlike welkom by die Dakspuier

Graag heet ek U, geagte leser, hartlik welkom by my etniese Afrikaanse blog. Ek is die outeur van 'n gewaagde gruwelprent en swaar metaal resensie blog genaamd The Necro Files. Daar is egter min Afrikaanse blogs waarvan ek weet wat nie ver-Praag is nie.

Selfs hier op Blogger kan mens nie Afrikaans as voertaal kies nie, so ek moes myself maar met Nederlands bemoei. Ook nie te versmaaie nie. Die vokale rol effe meer as wat ek aan gewoond is en dié spuug ook effe meer, maar Nederlanders is darem oor die algemeen gaaf. So, die Kaap is nou maar eenmaal Hollands.

Ek het dus besluit om self 'n Afrikaanse blog te begin met die idee om lekker spek te skiet, konfyt te smeer en kwaad te stook soos net 'n Boer mos kan. Mens moet maar die oog op die koerant hou in ons wonderskone land. Deels omdat daar waarskynlik 'n booswig is wat die dêng wil steel, maar ook omdat mens nie soos 'n lieplapper mampara wil opeindig en jou lewe (en andere s'n) van so min waarde ag dat jy dit sal neerlê vir politici nie.

Verwag dus nou en dan so bietjie bittere politiese kommentaar, 'n paar kwinkslae en heelwat galgehumor. Baie dankie!