
The Stone Roses: Second Coming
The Stone Roses is bekend daarvoor dat hulle die eerste groot popgroep was wat in die negentigs in die hof beland het. Dit was oor 'n platemaatskappy onderonsie - toe nie so ruk en rol nie. Op hulle eerste album (met die baie kreatiewe titel The Stone Roses) het hulle 'n troebeling in die pop golwe veroorsaak. Dit was maar tipies Manchester Sound marakas, koeiklok en leepoog zolrolmusiek, maar in die laat tagtigs het mense gedink dis nuut om op die dol te sit en te broei terwyl jy oor naweke plate spin en jou marakas duk skud.
Daar was dus redelike opwagting vir hierdie tweede album van die groep. Nietemin het die platemaatskappy hofsake veroorsaak dat die album vertraag was. Nou nie so vertraag soos mense raak as hulle zolle rol, plate spin en marakas skud nie, maar iets in daai lyn.
Op hierdie album het die groep minder plate gespin, meer zolle gerol en meer marakas geskud. Die eerste snit, genaamd Breaking Into Heaven is nogals 'n windmakerige aftreksel van die laat sewentigs konfytgroepe. Konfytgroepe, want hulle smeer dit dik en plak die deuntjies styf vas. Dis 'n metaforiese snit, iets in konsep soos een van Liszt se tone poems, waar die atmosfeer eers deur vleiklanke geskep word voordat die groep er, aanklank vind. Laat mens nogals dink jy drywe op Cheron se skip voordat jy inbreek in die hemel. Dis nou natuurlik nie die tipe inbreek as wat Julius Malema van hou nie.

Die res van die snitte is maar so-so, alhoewel dit duidelik is dat die kitaarspeler pas graad gevang het in die Dinosaur Jr kitaarskool. Dis nou die sit in jou kamer, rol zol en luister na Led Zeppelin skool. Maar tenspyte van die duidelike kruie invloed, is die album oor die algemeen opgewek.
Dit was 'n redelike suksesvolle album, wat die hoofsanger Ian Brown se loopbaan gelanseer het, die kitaarspeler John Squire se loopbaan gekelder het en mense laat begin luister het na The Happy Mondays.
