04 June 2010

The Stone Roses Second Coming CD

Ek doen gewoonlik swaar metaal en gruwelfilm resensies vir my Britse blog, The Necro Files. Alhoewel ek dikwels afwyk van die tema, voel ek nogtans dat ek liewer bietjie iets in die taal wil vermag. Dus bied ek 'n resensie van hierdie album hier.

the second coming album cover

The Stone Roses: Second Coming


The Stone Roses is bekend daarvoor dat hulle die eerste groot popgroep was wat in die negentigs in die hof beland het. Dit was oor 'n platemaatskappy onderonsie - toe nie so ruk en rol nie. Op hulle eerste album (met die baie kreatiewe titel The Stone Roses) het hulle 'n troebeling in die pop golwe veroorsaak. Dit was maar tipies Manchester Sound marakas, koeiklok en leepoog zolrolmusiek, maar in die laat tagtigs het mense gedink dis nuut om op die dol te sit en te broei terwyl jy oor naweke plate spin en jou marakas duk skud.

Daar was dus redelike opwagting vir hierdie tweede album van die groep. Nietemin het die platemaatskappy hofsake veroorsaak dat die album vertraag was. Nou nie so vertraag soos mense raak as hulle zolle rol, plate spin en marakas skud nie, maar iets in daai lyn.

Op hierdie album het die groep minder plate gespin, meer zolle gerol en meer marakas geskud. Die eerste snit, genaamd Breaking Into Heaven is nogals 'n windmakerige aftreksel van die laat sewentigs konfytgroepe. Konfytgroepe, want hulle smeer dit dik en plak die deuntjies styf vas. Dis 'n metaforiese snit, iets in konsep soos een van Liszt se tone poems, waar die atmosfeer eers deur vleiklanke geskep word voordat die groep er, aanklank vind. Laat mens nogals dink jy drywe op Cheron se skip voordat jy inbreek in die hemel. Dis nou natuurlik nie die tipe inbreek as wat Julius Malema van hou nie.

Stone Roses

Die res van die snitte is maar so-so, alhoewel dit duidelik is dat die kitaarspeler pas graad gevang het in die Dinosaur Jr kitaarskool. Dis nou die sit in jou kamer, rol zol en luister na Led Zeppelin skool. Maar tenspyte van die duidelike kruie invloed, is die album oor die algemeen opgewek.

Dit was 'n redelike suksesvolle album, wat die hoofsanger Ian Brown se loopbaan gelanseer het, die kitaarspeler John Squire se loopbaan gekelder het en mense laat begin luister het na The Happy Mondays.

02 April 2009

Joost is boos

Arme Joost van der Westhuizen. Die pers loop op hol met aantuigings dat hy wit poeier van 'n gevalle dame se lyf afgesnuif het. En dis nie baba poeier nie. Ek wil nou nie daarop ingaan of hy nou wel die dame se geselskap geniet het aldan nie, maar ek moet sê Joost het nogals in aansien gestyg by my nadat ek verneem het 'n agterspeler kan tog wel ook stoot as dit moet. Alhoewel daar so bietjie chemiese opkikking benodig word.

Argumente vir Joost se sondeval


  • Daar is wel 'n video. Maar dalk is dit 'n kranige waaghals wat instaan vir Joost?

  • Die gevalle dame het 'n leuenverklikkertoets geneem wat daarop dui dat sy die waarheid praat.

  • Joost is getroud met Amor Vittone en sy's nou nie juis iets vir die oog nie. Of vir die oor nie.

  • As ek in Joost se skoene (of is dit nou kouse?) was, sou ek met oorgawe die wellustige video gemaak het, mits my vertoning goed was.


Argumente teen Joost se sondeval


  • As Joost geweet het van die video, waarom het hy nie omkoopgeld betaal daarvoor nie? Of onderhandel vir regte op die video dat hy kan geld maak uit die storie ala Paris Hilton nie? Kyk, rugbyspelers is soms dom, maar nie só dom nie?

  • As Joost nie geweet het van die video nie, waarom het hy nie omkoopgeld betaal daarvoor toe dit op die lappe kom nie? Ek weet darem nie, ek vermoed nogals Joost is óf onskuldig, óf dis ou Bloubulkoeie wat kwaadaardig uit die slet sloot gegrawe is.

  • Geen Bloubul kan vir 'n halfuur lank stoot nie.

  • Die Bloubul snuif nie van 'n hoer af nie.


Maak dit regtig saak?


Ek twyfel. Dis immers onnosel om sportmanne as jou morele kompas te gebruik. Joost is 'n rugbyspeler en maak sy bestaan uit rugby. Sy privaatlewe is tussen hom en Amor. Ek dink nie dit het 'n invloed op sy bekwaamheid wat rugby betref nie. En jy kan nie vir my vertel dat dit 'n ou glipsie is tussen die rugby skare nie. As Joost wel betrokke was by 'n swelgparty, is dit nou net kwaadaardige uitbuitery om hom te teiken. Los die arme man uit, man. Of ontbloot die hele hoernes vir wat dit is en bring maar nog videos na vore, want indien Joost wel betrokke was, was hy beslis nie die enigste een nie.

17 January 2009

Die ANC het 'n plan beraam om Zuma te red

Blykbaar beoog die ANC om Jacob Zuma se bas te red met 'n slim plan:
  • Hulle sal bewys dat Zuma geensins bedoel het om deur die geld wat Shaik vir hom bekom het van die wapenhandelaars omgekoop te raak nie.

  • Hulle sal ook redeneer dat Jacob Zuma se hofsaak nie in publieke belang is nie.



Nou toe nou. Die eerste punt is nogals vreemd, aangesien Shaik skuldig bevind is van bedrog en omkopery. Shaik is skuldig bevind daarvan dat hy omkoopgeld bewerkstellig het vir Zuma. As Shaik dus bedrog gepleeg het, het Zuma bedrog gepleeg. Die ANC het die kat aan die stert beet: die vraag is nie óf Zuma skuldig is nie, die vraag is hoe skuldig Zuma is. Hy is immers reeds skuldig daarvan dat hy omkoopgeld ontvang het.

Die tweede punt is net gek. Natuurlik is dit in publieke belang om te weet of jou aanstaande president skuldig is van omkopery en bedrog. Die ANC redeneer dat hulle sal opruk en groostskaalse onrus veroorsaak as Zuma nie verkies word nie, dus is dit in die publieke belang dat Zuma verkies word. Dis laf, en ek hoop slim vang sy baas.

15 December 2008

Juffrou vertel kinders daar is geen Kersvader, word afgedank

'n Skooljuffrou het haar leerlinge wysgemaak dat daar geen kersvader is nie. 'n Kiloliter snot en trane later is die juffrou sommer afgedank. Al die ou tannies het gekla dat hulle kinders snot en trane by die huis aangekom het. Die ouers het nie moed opgegee totdat die wrede heksejuffrou afgedank is nie.

Santa Clause on the cross. Kruisvader?
Art Conrad herinner ons waaroor Kersfees nou eintlik gaan.

Bestaan kersvader wel?


Wel, daar is wel 'n geskiedkundige figuur, genaamd Sinterklaas, waarop kersvader gebasseer is. Is daar werklik 'n lustige ou man wat met sy slee in een dag rondom die wêreld vlieg en aan almal geskenke aflewer? Ek wil nou nie snaaks wees nie, maar ek het nog nooit rendiermis in my tuin opgemerk nie. Snaaks genoeg verdwyn die melk en koekies - en beslis die sopie of twee - wat ek uitsit telkemale.

As daar wel 'n kersvader is, blyk die kêrel die vermoëns van elektrone magtig te wees. Jy weet, Heisenberg se onsekerheidsbeginsel. Ek kan wel die effek van Kersvader se momentum waarneem (naamlik dat my melk, koekies en sopies - veral die sopies - voete kry), ek kan wel die posisie van Kersvader bepaal (naamlik die Noordpool, natuurlik), maar ek kan egter nie sy posisie en sy momentum op dieselfde tyd vaslê nie. Dalk moet ek hierdie kersfees 'n pil rohypnol in kersvader se sopie sit. Jammer, almal. Kersfees raak dalk afgestel, maar dis in die naam van wetenskap en vooruitgang.

Is dit tot jou kinders se voordeel om hulle leuens te vertel in die gees van kersfees?


Die kort antwoord is ja, sou ek reken. My ouers het my vertel van die tandemuis, die paashaas, kersvader en Liewe Jesus. Een keer toe ek 'n lekker voortand gewissel het en dit in my skoen gesit het, was ek effe angstig om hierdie tandemuis in aksie te sien. Toe sluip ek in my kamer in op 'n onbenullige tyd en vang toe my pa handeviervoet met sy vingers in my skoen. Ek vra hom toe wat gaan aan. Hy probeer my toe wysmaak dat hy die tandemuis voer. Natuurlik vra ek hom of ek die tandemuis kan sien, maar toevallig is die tandemuis bang vir kinders en kry dié toe skielik skrik op die lyf. Toevallig nadat hy sy tand gekry het. Toevallig nadat ek 'n kranige R1 munt in my skoen sien blink het. Nogals 'n windgat bureau de change, daardie tandemuis.

Daardie middag het soos 'n klassieke filmtoneel gelyk. Ek onthou nog hoe ek my hande aan my wange slaan en 'n haasbek angskreet uitlaat ("mathaverpoethting!"). Een angskreet vir die tandemuis, op 'n nabyskoot. Een angskreet vir die paashaas, op 'n mediumskoot. Een angskreet vir kersvader, op 'n langskoot. Een angskreet vir Liewe Jesus, op 'n lugskoot wat die kwartels wys soos hulle uit die bome uiteendrywe. Helaas, nie eers die Heiland het heelhuids hiervan afgekom nie. Dis nou wat jy kry van 'n haasbek.

Ek sou nou nie sê dat die arme juffrou afgedank moet word omdat sy haar bek verby gepraat het nie. Ek moet egter bieg: as my blootjie nie self kan uitpluis dat daar nie werklik 'n kersvader is nie, sal ek myself as ouer afdank.

11 December 2008

Jammer, geen wapenondersoek

Nou toe nou. Onlangs het die voormalige staatspresident F.W de Klerk asook biskop Desmont Tutu president Kgalema Motlanthe berispe om dalk 'n onafhanklike wapenondersoek in te stel. Al die skelette in daai kas wil tog net nie gaan lê nie. Die poppe dans behoorlik.

President Kgalema Motlanthe reken egter dat daar geen geldige rede is vir 'n onafhanklike wapenondersoek nie, want geen lid van die publiek kon nog vorendag kom met enige bewyse dat die wapentransaksies onreëlmatig was nie. Nogal steeks, die president. En dit nogals voor 'n kerkmens soos Desmond Tutu.

"There is already an investigation in some of these matters and we are confident that our law enforcement agencies are capable of handling any allegations pertaining to the arms deal."

[Thabo Masebe, woordvoerder van die president.]

Daar is iewers 'n slang in die gras. Ons regstoepassing val onder die polisiehoof. Die polisiehoof moes onlangs uittree omdat hy toe bietjie té goed bevriend was met Glen Agliotti, volgens oorlewering 'n witboordjiemisdadiger. Die Skerpioene het hulle werk te goed gedoen, en is toe sommer ontbind en ingeskakel by die polisie. Maar die polisiehoof is ook een van die ape wat die wat die Skerpioene nou uit die mou gelaat het.

Nou wil die president ons wysmaak dat hy volle vertroue het in ons regstoepassing, waarvan die hoof kokkedoor nou moes uittree omdat hy nie so goed gevaar het met ons vertroue in hom nie.

Ek dink ons moet begin kyk wanneer laas president Kgalema Motlanthe 'n nuwe C-klas Mercedes Benz aangeskaf het. Dalk oorvleuel sy winskopie met die aankoop van die weermag se nuwe stralers.

05 December 2008

Die Helde van die Jaar

Daar is deesdae nogals 'n aanval op akademiese vryheid in Suid Afrika. Soos gewoonlik, lê die probleem aan die politiese kant en nie aan die tegniese kant nie. Barney Pityana (Unisa se vise-kanselier), Dr Anton Turton (voormalige waternavorser van die WNNR) en Prof Nithaya Chetty (voormalige fisici van die Universiteit van KwaZulu-Natal) het almal al die kortste lootjie getrek.

Barney Pityana en die kommuniste


Barney Pityana het die fout gemaak om sy stem dik te maak oor die omstrede Jacob Zuma. Al wat Mr Pityana beweer het, is dat Zuma 'n morele maaifoedie is. Nou reken die ANCYL en die SAKP dat hy nie sulke ongegronde stellings mag maak nie. Ek meen dis nie asof Zuma al ooit skuldig bevind is nie. Zuma is wel al beskuldig en aangekla vir ondermeer verkragting, geldwassery en omkopery. Boonop sit sy voormalige finansiële raadgewer huidiglik in die tronk omdat hy namens Zuma omkoopgeld bewerkstellig het. Nogtans is daar nie grondige rede om te beweer dat Zuma 'n skurk is nie. Nee, glad nie.

Wel, Mnr Pityana, ek haal my hoed af vir jou. Jy's 'n ware heer.

Dr Anton Turton en die drol in die drinkwater


Ja, dis nie net 'n bar karavaanparkliedjie nie. Blykbaar is daar werklik drolle in ons drinkwater. Dr Turton het die fout gemaak om dit vir ons te vertel, want alles moet mos nou mooi vertoon in die Nuwe Suid Afrika. Die WNNR het toe sommer besluit om Dr Turton te skors.

Soos wat dit nou maar deesdae gaan, maak jy 'n fout as jy jou werk té noukeurig doen. Dr Turton is nou die slagoffer van sy eie kundigheid en sy eie vernuf. Dis mos nie deesdae meer iets om op jou CV te sit nie. Nee, jy moet eerder 'n kriminele rekord hê. Verkieslik ene wat daarvan getuig dat jy vrouens en kinders in die Wimpy probeer opblaas het met tuisgemaakte ploftoestelle. Maar heelaas, as jy nou wetenskaplike navorsing doen en die resultate lyk nie polities korrek nie, dan is jy sommer die drol in die drinkwater.

Dr Turton het geweier om sy navorsing of sy voorstelling daarvan te wysig en daarvoor is hy afgedank. Wel, Dr Turton, ek haal my hoed ook af vir jou. Jy's ook 'n ware heer en ons gaan dit nog erg berou dat ons nie na jou geluister het nie.

Prof Nithaya Chetty en die CV vervalsers


Prof Chetty het die fout gemaak om Malegapuru William Makgoba (sy vise-kanselier by die Universiteit van KwaZulu-Natal) in die pers aan te vat. Nou as ons nou swart op wit kyk daarna hoe sake staan, daan lyk dit nie asof die einstie vise-kanselier se kritek so onbenullig was nie.

Malegapuru is al weggejaag by die Universiteit van die Witwatersrand omdat hy sy CV vervals het. Hy is ook al aangekla van seksuele teistering. Nou hoe kan Prof Chetty dan so 'n rolmodel aanvat in die pers? Ek meen jy mag mos nie vir 'n plototter vertel dat hy 'n plototter is nie. Nee, dis nie polities korrek nie.

Prof Chetty verlaat tans die Universiteit van KwaZulu-Natal. Ek dink dis 'n wyse besluit want soort soek soort. Prof Chetty, ek haal my hoed af vir jou ook. Jy is ook 'n ware heer en ons akademiese instansies gaan dit nog berou dat hulle van manne van jou staal ontslae geraak het.

04 December 2008

Wanneer is dit haatspraak?

Die ANC se bejaarde jeugliga was onlangs in die sop oor die omstrede uitlatings van sy leier, Julius Malema.Julius reken dis maar reg as hy nou sy lewe wil neerlê vir Jacob Zuma. Verder reken hy dat dit dus reg is as hy ander mense se lewens ook wil opoffer vir sy saak. Grens dit nie dalk aan haatspraak nie?

Julius Malema. Ek dink hy moet eerder sy van verander na Mampara.


Daar is telkemale klagtes ingedien by die South African Human Rights Commission (SAHRC), maar daar het niks van gekom nie. Dalk is die SAHRC nie so onafhanklik soos wat ons dit sou wou gehad het nie. Malema is min of meer regstreeks verantwoordelik vir die groot skeur in die ANC, wat uiteindelik gelei het tot 'n nuwe politiese party. Tog hou hy voet by stuk dat hy nié haatspraak gebruik het nie. So wat is haatspraak nou eintlik?

Op professor Pierre de Vos se blog het ek hierdie definisie raakgeloop:

Article 10 of PEPUDA prohibits any person from publishing, propagating, advocating or communicating words based on one or more of the prohibited grounds such as race, sex, gender and sexual orientation, against any person, that could reasonably be construed to demonstrate a clear intention to be hurtful; be harmful or to incite harm; or promote or propagate hatred.

Malema mag dus dalk wegkom op die tegniese punt dat hy nie haat of geweld gestook het teen enige spesifieke ras, geslag, seksuele voorkeurgroep of enige spesifieke persoon nie. Hy stook net haat en geweld in die algemeen. So 'n haatslet! Dog het hy naderhand om verskoning gevra oor sy uitlatings. Ek dink nie hy moes nie, want sedert die ANC nou gekloof is in die middel is ek nogals dankbaar vir die vent.